Angelina Jolie, Oscar-bekroonde aktrise, het ’n voorkomende dubbele mastektomie ondergaan.
Die 37-jarige Hollywood-aktrise het gister in ’n rubriek in The New York Times geskryf albei haar borste is verwyder nadat sy uitgevind het sy het ’n foutiewe geen wat haar kans op bors- en eierstokkanker aansienlik verhoog.
Jolie het onthul dat sy einde April ’n drie maande lange proses om albei borste te verwyder, voltooi het.
Sy het besluit om haar persoonlike ervaring met vroue te deel om hulle bewus te maak van voorkomende chirurgie.
Jolie skryf sy het aan haar kinders gedink toe sy die moeilike besluit geneem het. Haar ma, die aktrise Marcheline Bertrand, het op 56 aan eierstokkanker gesterf.
“My kinders het gevra of dieselfde met my kan gebeur. Ek het nog altyd gesê hulle moet hulle nie bekommer nie, maar die waarheid is dat ek ’n ‘foutiewe’ geen het.
“Dokters het bereken ek het ’n 87%-kans om borskanker te kry en ’n 50%-kans op eierstokkanker. Elke vrou (met die foutiewe geen) se risiko is egter anders.
“Kanker is steeds ’n woord wat mense met vrees en ’n diep gevoel van magteloosheid vervul. Maar dit is vandag moontlik om, met behulp van ’n bloedtoets, te bepaal of jy ’n hoë risiko het om bors- of eierstokkanker te kry. En jy kan daarvolgens optree.”
Die eerste van haar drie operasies is op 2 Februarie gedoen. “Ek het dit stil gehou en was in staat om met my werk voort te gaan.”
Sy het gesê dit was ’n baie moeilike tyd, maar sy is nou verlig omdat haar kans om borskanker te kry ná die operasie net 5% is.
Volgens dr. Devan Moodley, ’n onkoloog by die Donald Gordon- mediese sentrum in Johannesburg, het sowat 10% van vroue die foutiewe BRCA1-geen.
Nie baie voorkomende dubbele mastektomieë word in Suid-Afrika uitgevoer nie omdat vroue hier steeds baie reaktief is en vir ’n diagnose wag, het Moodley gesê.
Hy het vroue met ’n familiegeskiedenis van borskanker aangeraai om hulself te laat toets.
Moodley het gesê Jolie se besluit was medies die regte besluit.
“Ek sal my pasiënte met dié gene altyd aanraai om ’n dubbele mastektomie te ondergaan.”
Jolie sluit haar rubriek só af: “Die lewe het baie uitdagings. Dié wat ons nie bang behoort te maak nie, is dié wat ons kan pak en waaroor ons self beheer kan neem.” – The New York Times en Sapa-AP
Kenners sê
“Dit is nie óf jy borskanker gaan kry nie, maar wanneer. Dít is die harde werklikheid wanneer ’n foutiewe BRCA1- of BRCA2-geen by jou gediagnoseer word. Boonop is die kanker wat jy van BRCA1 kry, baie aggressief en moeilik behandelbaar.” – prof. Justus Apffelstaedt van die Universiteit van Stellenbosch en hoof van die borskliniek in die Tygerberg-hospitaal.
- “Die rekonstruksie word so goed gedoen dat jy nie eens agterkom as iemand die operasie gehad het nie. Ek dink nie dit moet ’n keuse wees nie. As jy nie die operasie ondergaan nie, is dit amper so goed soos om Russiese roulette te speel.” – Renee Goedhals, berader en voormalige adjunkpresident van Reach for Recovery. – Marelize Potgieter
Link to article: http://www.beeld.com/nuus/2013-05-15-jolie-verwyder-albei-borste