
Borste en bene – Die impak van borskankerbehandelings op beengesondheid
Dr. Justus Apffelstaedt
Borskanker is die kanker wat die meeste by vroue gediagnoseer word[1]. Danksy ’n omvattende navorsingspoging wat strek oor meer as ’n halwe eeu is borskanker een van die kankers wat die beste verstaan word, met gevorderde siftings- en behandelingsterapieë wat beskikbaar is. Vroue oorleef langer, het verhoogde remissiekoerse en leef in baie gevalle net so lank soos hul kankervrye eweknieë.
‘Die lewe ná borskanker’ is gevolglik ’n toenemende belangrike onderwerp as gevolg van die moontlike negatiewe effekte wat lewensreddende borskankerbehandelings mag he bv kardiovaskulêre toksisiteit, beenverlies en vele meer.
Behandeling-geïnduseerde beenverlies is een van die newe-effekte van algemene borskankerbehandelings wat die beste nagevors is. Alle vroue en mans ervaar na die ouderdom van 30 ’n mate van beenverlies – ’n natuurlike gevolg van veroudering. Die estrogeenontneming van menopouse by vroue is egter ’n bydraende faktor. Tog is dit slegs sommige vroue wat genoeg been sal verloor om behandelings teen beenverlies te regverdig.
Ongeveer 200 miljoen individue kry in hul leeftyd osteoporose, volgens ’n navorsingsartikel[2] van 2020. Osteoporose is ’n ernstige vorm van beenverlies en ongeveer een uit elke drie vroue sal na verwagting ’n fraktuur van die heup, ruggraat of pols weens osteoporose ervaar.
Dit is ’n feit dat sommige behandelings tot behandeling-geïnduseerde beenverlies mag lei by vroue wat borskankerbehandeling ondergaan. Dit kan vir diegene, wat reeds in gevaar verkeer om beendigtheid te verloor, tot frakture weens osteoporose lei indien behandelings nie van die begin af bestuur word nie. Frakture weens osteoporose verlaag jou lewensgehalte en kan lei tot die verlies van beweeglikheid en selfs voortydige dood deur komplikasies, indien ’n gewigsdraende been soos ’n femur betrokke is.
Vroue wat in gevaar verkeer van versnelde beenverlies, sluit in:
- Rokers;
- Oormatige alkohol verbruikers;
- Diegene met ’n lae liggaamsmassa;
- Diegene met ’n persoonlike of parentale geskiedenis van nie-traumatiese frakture en rumatoïede artritis; en
- Diegene met ’n familiegeskiedenis van osteoporose.
Die gebruiklike voorkoming van beenverlies behels dat jy ophou rook, alcohol inname beperk en jou fisiese aktiwiteit verhoog. Kalsium- en vitamien D-aanvullings word ook aanbeveel, tesame met beendigtheidsondersoeke sodra menopouse begin.
Die voorkoming van oormatige beenverlies moet ’n prioriteit wees vir vroue wat borskankerbehandelings ondergaan.
Postmenopousale vroue en behandeling-geïnduseerde beenverlies
Dit is welbekend dat die behandeling met aromatase-inhibeerders ( AI’s) aan beenverlies gekoppel word. AI’s verlaag estrogeenvlakke deur te voorkom dat die aromatase-ensiem in vetweefsel ander hormone in estrogeen verander. Chemoterapie het ook ’n uitwerking op beenverlies.
Postmenopousale vroue se beenverlies met Al’s is ongeveer 2-3% per jaar, terwyl gesonde postmenopousale vroue s’n ongeveer 1-2% per jaar is.
Die mediese span kan verskeie behandelings volgens die pasiënt se beendigtheidsrisikofaktore voorskryf ten einde beenverlies te voorkom en frakture weens osteoporose te beperk.
Premenopousale vroue en behandeling-geïnduseerde beenverlies
Behandeling met AI’s by premenopousale vroue gaan altyd gepaard met onderdrukkers vir eierstokfunksie. Dit veroorsaak dan ’n kunsmatige menopouse. Chemoterapie-geïnduseerde voortydige menopouse (CIOV) moet ook in ag geneem word. Data oor die uitwerkings van tamoksifeen is onvoldoende. Hierdie algemene medikasie word gewoonlik saam met onderdrukkers vir eierstokfunksie óf na chemoterapie gegee wat veroorsaak dat ’n beoordeling van die bepaalde uitwerkings van die individuele middels op beengesondheid uiters moeilik is.
Daar is egter goeie nuus – min premenopousale vroue benodig behandeling vir ernstige beenverlies (osteoporose), ten spyte van behandeling-geïnduseerde beenverlies, aangesien hulle nader aan hul piekbeenmassa is.
Leefstylveranderinge, aanvullings en gereelde beendigtheidsondersoeke is voldoende vir die oorgrote meerderheid jong vroue.
Dit is belangrikrik dat ’n risikobepaling vir beenverlies deur die mediese span onderneem word voordat vroue met borskankerbehandeling begin. Gereelde beendigtheidstoetse, berading oor leefstylveranderinge en monitering moet deel vorm van die behandelingsplan, maar dit word ongelukkig dikwels oorgesien.
Beenverlies is dalk ietwat vreesaanjaend, maar dit moet opgeweeg word teen die kanse vir ’n borskankerremissie of -genesing. Die risiko kan bestuur word saam met ’n kundige mediese span.
[1] https://www.who.int/news-room/fact-sheets/detail/breast-cancer
[2] https://www.ncbi.nlm.nih.gov/pmc/articles/PMC7690788/