
Weerlê die mites oor borsgesondheid
Is dit werklik seer om ’n mammogram te kry en het drinkers werklik ’n groter kans om borskanker te ontwikkel? Dit is dikwels moeilik om tussen feite en fiksie te onderskei, met soveel mites en vooropgestelde idees op die internet. Bors-, skildklier- en paratiroïedspesialiste, dr. Justus Apffelstaedt en dr. Fatima Hoosain, help om ’n paar wanopvattings oor borsgesondheid te ontmasker.
MITE 1
Daar is ’n styging in die voorkoms van borskanker onder jonger vroue.
WAARHEID
Verhoogde mediadekking ten opsigte van gevalle van jonger vroue met beroemdheidstatus wat met borskanker gediagnoseer word, het tot die persepsie bygedra dat daar ’n opmerklike styging in die voorkoms van borskanker onder jonger vroue is. Daar is inderdaad meer borskankergevalle by jonger vroue, maar die styging is taamlik gering en die meeste borskankerpasiënte in Suid-Afrika en oorsee was, en is steeds, kenmerkend vroue tussen die ouderdomme van 50 en 70. Wat egter wel waar is, is dat borskanker dikwels misgekyk word onder jonger vroue, aangesien hulle dikwels nie in siftingsprogramme ingesluit word nie. Kanker word dus gewoonlik op later stadiums (wanneer ’n sigbare knop reeds teenwoordig is) opgespoor. Indien daar ’n familiegeskiedenis van borskanker is, is dit raadsaam om ’n spesialisopinie te kry oor borskankersifting vanaf ’n vroeër ouderdom en ook of genetiese toetsing van waarde sal wees.
MITE 2
Chemoterapie is die belangrikste faktor ten opsigte van die verlaging van borskankerverwante sterftes.
WAARHEID
Daar is bewys dat twee benaderings in kombinasie met mekaar die doeltreffendste manier is om borskankersterftes te verlaag: Siftingsmammografie deur gespesialiseerde klinieke en behandeling by ’n gespesialiseerde, multidissiplinêre kliniek. Sodanige kliniek moet chirurgiese, mediese en onkologiese bestralingsdienste asook plastiese chirurgiese dienste deur spesialiste in hierdie dissiplines aanbied wat ’n spesifieke belangstelling in borsgesondheid het. ’n Pasiëntvolume van meer as 150 nuwe borskankergevalle per jaar toon die halvering van langtermyn-herhalingskoerse.
MITE 3
Alkoholgebruik verhoog jou risiko vir borskanker.
WAARHEID
Alkohol en sy metaboliet-asetaldehied, met spesifieke verwysing na wyn, is hoogs karsinogenies oftewel kankerwekkend. Die goeie nuus is egter dat mense beide stowwe baie doeltreffend kan metaboliseer en dus is die kankerwekkende uitwerkings van alkohol skaars sigbaar indien dit matig verbruik word. Wyn bevat veral verskeie bioaktiewe stowwe wat daarvoor bekend is om die risiko vir borskanker te verlaag. Daar is ook beduidende bewyse uit in vitro-studies asook waarnemingstudies dat matige wynverbruik as deel van die “mediterreense” dieet en lewenstyl moontlik die risiko vir borskanker kan verlaag. Oormatige alkoholverbruik word algemeen beskou as nadelig en verhoog aansienlik die risiko en sterftes vir borskanker.
MITE 4
Alle mammogramme is gelykwaardig en mammogramme beteken nie veel in terme van borskankerbehandeling nie.
WAARHEID
Die meerderheid van alle mammografie wat in Suid-Afrika uitgevoer word, is vir siftingsdoeleindes. Die akkuraatheid van mammografiese diagnose tydens sifting is afhanklik van die onderstaande:
- Die gebruik van die nuutste tegnologie vir die mammogram. KI word ook al hoe meer deel van mammografie.
- Die beste beelding en uitleg word verkry deur ’n radiografis wat in mammografie spesialiseer.
- Die beste interpretasie van die beelding word gewoonlik gelewer deur dokters wat in mammografiese interpretasie spesialiseer en ten minste 2 000 mammogramme per jaar interpreteer.
- ’n Proses van streng gehaltebeheer word toegepas, waartydens alle uitslae aangeteken en gereeld ontleed word.
Dit sal slegs moontlik wees om die belofte van ’n verlaging in borskankersterftes en ’n verhoging in borsbehoudingskoerse te verwesenlik, indien daar aan al die bogenoemde voorwaardes voldoen word.
Hoëgehalte borsbeelding sal ongeveer 95% van alle borskankers opspoor. Borskankers wat nie deur beelding opgespoor word nie, is seldsaam indien daar aan die bogenoemde kriteria by ’n borsbeeldingskliniek voldoen word. Vroue wie se borskanker tydens sifting by sodanige klinieke opgespoor word, het dieselfde oorlewingskanse as vroue sonder borskanker.
MITE 5
Dis nie belangrik waar jy behandel word nie.
WAARHEID
’n Baie belangrike faktor is waar die pasiënt behandel word, maar word dikwels misgekyk. Die risiko om binne die volgende vyf jaar te sterf kan tot 60% hoër wees by klinieke met min borskankerpasiënte teenoor klinieke wat meer as 150 nuwe borskankergevalle per jaar behandel. ’n Multidissiplinêre span spesialiste met ’n spesifieke belangstelling in borsgesondheid en wat met meer as 150 nuwe gevalle per jaar werk, toon die halvering van die langtermyn-herhalingskoerse. Die uitwerking van ’n gespesialiseerde en multidissiplinêre behandeling is van meer waarde as enige chemoterapie, hormonale of bestralingsterapie.
MITE 6
Dis beter om die hele bors te verwyder wanneer jy borskanker het.
WAARHEID
Borskanker saai uit (metastaseer) na plekke buite jou bors. Die gewas in jou bors kan jou nie doodmaak nie, maar wel die kanker wat na jou brein, longe, ensovoorts versprei. ’n Mastektomie is nie noodwendig ’n waarborg vir groter oorlewing teenoor borsbehoudingsterapie nie, aangesien borskanker dikwels vroeg in die verloop van die siekte na ander areas versprei. Indien sodanige mastektomie wel nodig is, kan jou bors tydens dieselfde sessie gerekonstrueer word. ’n Multidissiplinêre benadering behels gewoonlik besluite deur die onkologiechirurg, bestralingsonkoloog, mediese onkoloog en plastiese chirurg ten opsigte van die beste tyd en volgorde van elke individuele behandeling. Vir elke 100 vroue met borskanker by ’n goed georganiseerde, multidissiplinêre borskliniek, sal sowat 60 borsbehoudingchirurgie kry, 35 ’n mastektomie en onmiddellik daarna borsrekonstruksie kry en 5 sal die teater sonder haar eie óf ’n borsrekonstruksie verlaat.
Mite 6B: Onmiddellike rekonstruksie lei tot hoër herhalingskoerse.
WAARHEID:
Onmiddellike rekonstruksie is nie bewysbaar om herhalingskoerse te verander nie, ongeag of die rekonstruksie prosteties of met die pasiënt se eie weefsel gedoen word.
MITE 7
Mammogramme is pynlik.
WAARHEID
’n Mammogram wat deur ’n ervare mammograaf uitgevoer word, is nie ’n pynlike prosedure nie.
Goed opgeleide mammograwe behoort jou te kan help ontspan. As die pektorale spiere agter die bors ontspanne is, behoort die mammogram pynloos te wees.
Indien die borste pynlik is, moet ’n mammogram eerder nie uitgevoer word alvorens die rede vir die teerheid nie eers vasgestel is nie.
’n Mammogram kan wel ’n bietjie ongemaklik wees. Die langtermynvoordele is van groter belang as die korttermynongemak.
MITE 8
’n Borsvergroting maak dit moeiliker om borskanker op te spoor en jou risiko is dus groter.
WAARHEID
Jy verkeer nie in groter gevaar na jou borsvergroting nie, aangesien dit nie jou klierweefsel vermeerder nie. Dit is wel belangrik dat ’n ervare mammograaf jou mammogram uitvoer, aangesien spesiale tegnieke nodig is om al die borsweefsel waar te neem.