Jou lewensverwagting tydens elke fase van borskanker

By Dr. Justus Apffelstaedt 

Sodra pasiënte met borskanker gediagnoseer word, moet verdere toetse uitgevoer word ten einde vas te stel in watter fase die kanker is. “Insig ten opsigte van die verskillende fases van borskanker gee vir pasiënte ’n beter begrip van die omvang van hul siekte. Elke fase word met ’n prognose geassosieer, wat beurtelings weer met ’n moontlike lewensverwagting geassosieer word,” sê Dr. Apffelstaedt, spesialischirurg met ’n belangstelling in bors-, skildklier- en paratiroïedgesondheid asook sagteweefselchirurgiese onkologie.

Die fasebepaling van borskanker is ’n integrale deel ten opsigte van insig omtrent die siekte. Dit stel die pasiënt en hul mediese span in staat om die vordering van die siekte in meer diepte te bestudeer en word deur verskeie faktore beïnvloed, soos: hoe groot die gewas is, en of die kanker lokaal in die bors versprei het óf na ander organe of weefsels in die pasiënt se liggaam metastaseer (uitgesaai) het. Dit dra by tot die bepaling van behandelingsprotokolle en beïnvloed chirurgiese opsies. Dit dra ook by om verwagtings rakende die risiko van terugkering en lewensverwagting te bestuur.

Borskanker kom in vyf fases voor. Spesialiste neem gewoonlik ’n besluit volgens die TNM-fase en -graad van die kanker ten einde die fase te bepaal. Die TNM-fase groepeer borskanker deur te begin met die grootte en omvang van die gewas (T staan vir tumor/gewas), hetsy die gewas na die limfkliere (N staan vir nodus/klier) versprei het en hetsy die gewas op enige ander plek in die liggaam (M staan vir metastase)[1] ontwikkel het. Die kankerfase word met ’n Romeinse syfer van 0 tot IV aangedui.

Die vyf fases van borskanker word soos volg deur KANSA[2] uitgelig, met die verwante lewensverwagting (SEER)[3] langsaan:

  • Fase 0: Kanker is tydens sifting deur óf mammografie óf ultraklank opgespoor. Daar is geen sigbare massa in die bors nie. Die langtermynoorlewing van hierdie soort kankers is dieselfde as vir ’n vrou van dieselfde ouderdom sonder borskanker.
  • Fase 1: Borskanker is in die bors ontdek. Die gewas is kleiner as 2cm en het ook nog nie na die omliggende weefsels en oksellimfkliere versprei nie. Die relatiewe oorlewingsyfer teen vyf jaar vir hierdie fase is naby aan 100%.
  • Fase 2: Hierdie fase het ’n oorlewingsyfer van ongeveer 93% teen vyf jaar. Dit word in twee kategorieë verdeel.
    • IIA: Die gewas is kleiner as 2cm, maar het na die oksellimfkliere versprei óf is groter as 2cm, maar wel kleiner as 5cm en het nog nie na die omliggende limfkliere versprei nie.
    • IIB: Die gewas het tot tussen 2cm en 5cm gegroei en het na die oksellimfkliere versprei óf die gewas is groter as 5cm, maar het nog nie na die omliggende limfkliere versprei nie.
  • Fase III: Die relatiewe oorlewingsyfer teen vyf jaar begin teen fase III aanmerklik na ongeveer 72% te verlaag.
    • IIIA: Die gewas is groter as 2cm, maar kleiner as 5cm. Dit het reeds na verskeie oksellimfkliere of interne borslimfkliere versprei.
    • IIIB: Die kanker het na weefsel naby aan die bors versprei, insluitende die vel, borswand, ribbes of limfkliere in die borswand óf bo die sleutelbeen.
  • Fase IV: Hierdie fase is die ernstigste, met ’n relatiewe oorlewingsyfer teen vyf jaar van ongeveer 22%. Die kanker het in hierdie fase na ander organe of weefsels soos die lewer, longe, brein, bene of limfkliere naby aan die sleutelbeen versprei.

Daar is ’n ander kategorie wat voorkom, maar nie as ’n fase beskou word nie. Dit is wanneer die kanker weer terugkeer. Dit staan as terugkerende kanker bekend en word só genoem omdat dit nie ’n nuwe kanker is nie – die gewas verskyn wéér. Dit staan as “lokale terugkering” bekend indien die kanker op dieselfde plek voorkom en as “metastase” indien dit in ander organe of weefsels voorkom.

Die bostaande relatiewe syfers is gebaseer op die oorlewingskoers teen vyf jaar na die aanvanklike diagnose van borskanker, in vergelyking met die algemene bevolking wat nie kanker het nie én identiese eienskappe soos ouderdom en geslag deel. Hierdie syfers is slegs skattings. Dit moet sorgvuldig bestudeer word en met ’n spesialis bespreek word, aangesien ander faktore ook jou lewensverwagting mag beïnvloed, soos familiegeskiedenis en genetiese geneigdheid, tipe en eienskappe van die kanker self, die behandeling wat die individu ontvang het asook die manier waarop die kanker op die behandeling reageer het wat die individu ontvang.

Dit is altyd belangrik om te onthou dat die prognose sowel as die verwante lewensverwagting van die individuele fases slegs skattings is en dat alle fases behandelbaar is. Borskanker word toenemend as ’n chroniese siekte eerder as ’n doodstraf beskou, te danke aan die mediese vooruitgang van die beskikbare behandelings. Daar is geen plaasvervanging vir ’n goeie multidissiplinêre mediese span tesame met ’n uitstekende ondersteuningsgroep om jou by te staan tydens elke fase en om die toepaslike behandeling te verskaf ten einde beide lewenskwaliteit EN lewenskwantiteit te verseker.

[1] Cancer association of South Africa, http://www.cansa.org.za/files/2017/08/Fact-Sheet-Breast-Cancer-in-Women-NCR-2012-web-August-2017.pdf

[2]  Cancer Association of South Africa, CANSA

[3] Gradishar WJ, Moran MS, Abraham J, Aft R, Agnese D, Allison KH, Anderson B, Burstein HJ, Chew H, Dang C, Elias AD, Giordano SH, Goetz MP, Goldstein LJ, Hurvitz SA, Isakoff SJ, Jankowitz RC, Javid SH, Krishnamurthy J, Leitch M, Lyons J, Mortimer J, Patel SA, Pierce LJ, Rosenberger LH, Rugo HS, Sitapati A, Smith KL, Smith ML, Soliman H, Stringer-Reasor EM, Telli ML, Ward JH, Wisinski KB, Young JS, Burns J, Kumar R. Breast Cancer, Version 3.2022, NCCN Clinical Practice Guidelines in Oncology. J Natl Compr Canc Netw. 2022 Jun;20(6):691-722.

Published On: October 23, 2025/Categories: Articles, Breast Health/

Share, Choose Your Platform!

Related Posts

Categories

Recent Posts